top of page

Ons storie

Nieu-Bethesda is 'n baie spesiale dorp vir ons en een van ons gunsteling wegbreek en wegkruip plekke. Dis duskant Graaff-Reinet in die Karoo en bekoor met stof strate, ongelooflike restaurante, kuns gallerye, stap roetes, fossiel soektogte en natuurlik die Uilhuis van Helen Maartens.

Voor ons Graaff-Reinet show in Augustus hierdie jaar het ons twee dae in Nieu-Bethesda gaan rus. Ons het in 'n groot huis genaamd Paradijs gebly wat voel of jy terug gereis het na 'n tyd waar alles stadiger en rustiger gebeur.

Hoe kan ‘n dorp elke keer ‘n mens se hart net nog meer steel? Ons het gaan stap deur die stof strate en koffie gekry by The Village Inn, in Gregg Price se labyrinth ons stilte gaan vind, die kerk oopgesluit met sy oorspronklike sleutel en die orrel gespeel. Daarna was ons by die brouery en laatmiddag het ons die Stone Folk gaan soek.

Sonsondergang was een van daardie oomblikke waaroor ons tien teen een nog ‘n song gaan skryf en wat ons nooit sal vergeet nie - die Van Heerdens het ons gevat na hulle mees spesiale plek op hulle plaas. Op pad soontoe het ons honderde bloukraan voëls sien opstyg oor die goue veld. Ons het gebraai en die son rooi-pienk sien sak oor die Karoo en die skimmel op Compassberg…

Ons het nog ‘n oop tab by Boeties pub. Ons kom terug

bottom of page